MARAIS J.F. 1856-1954
Ds Johannes Francois Marais - leraar 23 Maart 1899–1921 (emeriteer)
Johannes Francois Marais is op 27 Junie 1856 gebore op die plaas Strydpoort in die distrik Steynsburg, die boereplaas van sy oupa aan moederskant. Destyds het die gebied se inwoners kerklik onder Cradock geval, daarom word die jongeling deur die vermaarde Skotse leraar ds John Taylor gedoop. Die jong seun word groot op die plaas Roodewal, waar sy vader en moeder hom met liefde versorg. Hy wou van kindsbeen af boer maar ontvang op agtienjarige leeftyd die roeping om predikant te word. Hy boer eers ‘n paar jaar en na ‘n lang en moeitevolle studietyd voltooi hy sy studie einde 1884 aan die Teologiese Seminarium op die walle van die Eerstervier op Stellenbosch. Hy was al derig jaar oud toe hy predikant word, destyds was dit seldsaam.
Van sy Marais familie bly op die plaas Zuurfontein in die distrik Molteno, waar hy van tyd tot tyd besoek bring en word op die wyse bekend as toekomstige leraar in die jong gemeente Molteno. Hy tree in die huwelik met Martha Petronella van der Merwe, uit die huwelik is drie kinders gebore, Pieter, Miemie en Schalk. Hulle dogter Miemie trou later met ds H S M Botha, waar hulle van 1907 tot 1943 leraarspaar is op Rouxville in die Suidoos Vrystaat. ‘n Groot ramp tref ds J F Marais toe sy geliefde vrou op 4 September 1917 sterf, hulle was drie-en-dertig jaar getroud en het saam agtien jaar lank die gemeente met deernis en oorgawe gedien. Sy word op die kerkgronde digby die kerkgebou begrawe, hieroor berig ons later volledig. Sy word oorleef deur haar man en drie kinders, Mimmie is getroud met ds H S M Botha van Rouxville, Pieter ‘n prokureur op Ceres en Schalk wat in Kaapstad studeer. Hy trou weer op 17 Junie 1918 met die weduwee van ds G J Malherbe, in lewe leraar van Steytlerville.
Na sy legitimasie ontvang hy ‘n beroep na die N G Gemeente Molteno, waar hy op 23 Mei 1885 as eerste leraar ontvang en bevestig word. Die gemeente is in 1881 gestig en het ook inwoners van Sterkstroom en omgewing ingesluit. Die leraarspaar het Sterkstroom per trein besoek omdienste te hou, dit was baie geriefliker as ‘n perdekar en het die deel van sy gemeente getrou besoek tot dit ‘n selfstandige gemeente geword het. Hierdie dienskneg van die Koning het veertien jaar lank die mense in die Stormberg met liefde en deernis bedien, tot met sy vertrek in 1899 na die Ned Geref Gemeente Dordrecht. Hier doen hy nog op 65-jarige leeftyd huisbesoek met ‘n perd en onderskei hom as iemand wat diep spore in die sendingarbeid trap, in ‘n besonder toe hy afgetree is in Oos Londen.
Johannes Meintjies, ‘n boorling en skrywer van Molteno skryf in 1981 met die gemeente se eeufees: “Ds Marais sou groot gewildheid geniet, nie net in sy dienstyd in die gemeente Molteno-Sterkstroom nie, maar oral waar hy sou gaan. Hy was beskeie, vriendelik, fiks van gestel, vol ywer en met ‘n deeglike kennis van die plattelandse samelewing, want hyself was ‘n boerseun. Selfs toe hy al lank van Molteno af weg was, het hy kontak met ou gemeentelede behou. Hy was ‘n wonderlike man, het die mense gesê wat hom onthou het”.
Na sy aftrede vestig hy hom in Oos Londen waar hy agt jaar lank as hulpprediker tydens die bediening van ds B J Wessels en ds J P van Huyssteen diep spore trap, die huisie op die seefront waarin hy woon behoort steeds aan sy nageslag. In die omgang is hy bekend as hospitaalleraar, ‘n werk waarvoor hy ‘n groot liefde openbaar en op ‘n besondere wyse verrig. Hy was so bekend, bemind en geliefd in Oos Londen, dat die verkeer vir die ou geliefde leraar tot stilstand gekom het om die strate skoon te laat as hy in sy bekende blou motortjie hospitaal toe ry om siekes te besoek. Hy het ‘n blywende indruk om mense gelaat, in 1955 met die eeufees skryf ‘n gemeenteseun ds J G J van Jaarsveld. “Voor my geestesoog is daar ook die beeld van die lieflike en vriendelike persoonlikheid van ds J F Marais”.
Ds J F Marais was sterk en gesond en oorleef byna al sy tydgenote en word 98-jaar oud, destyds die oudste leraar in die Ned Geref Kerk. Hy sterf op 24 Augustus 1954 en word in die skadu van die klipkerk op Dordrecht begrawe, terwyl ds P M van Heerden van Aliwal-Noord die begrafnisdiens waarneem. Die kerkraad van Dordrecht het het soos op sy vrou se graf, ook op sy graf ‘n pragtige grafsteen na sy dood opgerig. Oor sy merkwaardige lewe skryf die Jaarboek van die N G Kerk: “Dit was die einde van ‘n lewe op aarde wat nie gesoek het om homself op die voorgrand te druk en populêr te wees nie, maar alleen om ‘n toegewyde yweraar vir die saak van Jesus Christus onder al die bevolkingsgroepe van ons land te wees. Daarom kon dr Andrew Murray van Wellington met reg van hom sê: ‘Hy was ‘n volmaakte herder’, iemand wat die tyd uitgekoop het.
Uit: Van der Merwe, Gerdrie dr: Kerkwees tussen die Berge. Die verhaal van die Ned Geref Gemeente Dordrecht. 1857-2007. Bl. 45-47.
contributed by: Marlene Hammond
viewed 125 times