2. Ds W.L. EATON

Ds. William Loftie Eaton was predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat, buiten twee en ’n halfjaar as hulpprediker in die NG gemeente Oudtshoorn, sy hele loopbaan lank leraar van die NG gemeente Jamestown was. Nadat hy ruim twee jaar en ses maande op sy tuisdorp gearbei het, is hy op 21 Augustus 1899 beroep na Jamestown as opvolger van ds. T.J. Meyer wat in Maart die vorige haar weens tifuskoors gesterf het. Ds. Eaton is op 29 Oktober te Jamestown bevestig, 18 dae ná die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog. Op 1 Mei 1900 het hy in die huwelik getree met Magdalena Maria Hoek, wat op 23 Junie 1872 gebore is, ook in die distrik Oudtshoorn. Twee dogter en vier seuns is uit dié huwelik gebore wat almal nog geleef het ten tyde van die gemeente Jamestown se halfeeuviering in 1941. Drie hoogtepunte tydens ds. Eaton se dienstyd was die oprigting van die kerksaal, tweede kerkgebou en tweede pastorie. Die kerksaal is in 1906 opgerig. Mev. Eaton het die hoeksteen op 25 April daardie jaar gelê waarna die gebou op 4 Augustus 1906 ingewy is. Jamestown se eerste kerkgeboutjie is reeds in 1876 opgerig teen die som van £1 000, twee jaar nadat die dorpie aangelê is. Nadat die behoefte aan ’n ruimer kerkgebou gevoel is omdat die ledetal toegeneem en die ou kerk bouvallig en te klein geword het, is William Henry Ford as argitek aangestel en kon ds. Eaton die tweede kerk se hoeksteen op 25 Februarie 1911 lê. Dis op dieselfde plek gebou as die ou kerk, wat afgebreek is. Dié gebou is op 12 Februarie 1912 ingewy toe ds. A.J. Pepler van Molteno. Ds. Eaton het sy emeritaat ná ’n dienstyd van 33 en ’n half jaar aanvaar en moes die gemeente op 16 Mei 1933 "liefdebande verbreek en afskeid neem van sy waardige leraar en gade wat vir die gemeente soos ’n vader en moeder geword het. Behalwe die baie geestelike monumente, staan die huidige kerkgebou, kerksaal en pastorie as tasbare gedenktekens van hulle onvermoeide, ywerige en geseënde arbeid".[1] Die egpaar het hulle op Middelburg, Kaap gevestig, waar mev. Eaton oorlede is en aan die westekant van Jamestown se kerkgebou begrawe is. (bron: Wikipedia)
contributed by: Nellie Tait
viewed 257 times
2. Ds W.L. EATON