1. Overview
Net buite Middelburg (Oos-Kaap) op die R398 op pad na Richmond is 'n bordjie : Die Stoelmonument. Bietjie weggesteek, langs 'n peperboom, teen die hang van die Ouberg koppie is hierdie monument. Gebou uit doleriet klippe met 3 marmerklippe, een met 'n afdruk van 'n riempiestoel daarop gegrafeer, een met bewoording ” Ter ere aan Komm. J Lötter en P J Wolfaardt wat alhier gefusileer is 12/10/1901 en 15/10/1901 respektiewelik.” , en 'n kleiner derde steen bo-aan wat lees ” Wat beteken hierdie klippe vir julle? Joh 4:5″ Johannes Cornelius Jacobus Lötter (Hans) en sy adjudant Luit. Petrus Jacobus Wolfaardt het hier voor ñ vuurpeloton gesterf tydens die ABO. Die twee boereoffisiere is deur Kol Henry Schobel gevange geneem by Bouwers Hoek. Die inwoners van Middelburg het opdrag ontvang om op Middelburg se kerkplein bymekaar te kom waar die doodsvonnis voorgelees is. Die twee is toe geneem na die plek waar die monument huidig staan en daar aan 'n stoel vasgemaak en geskiet. Kommandant J C J Lötter (26jaar) van Colesberg het as gewone burger by die kommando van Komm Kritzinger aangesluit. Sy dapperheid en leierskap het hom gou die rang van kommandant besorg en saam met G Scheepers het hulle die Britse magte baie moeilikheid gegee in Kaapland. Hy was gevang en as Kaapse Rebel aangekla asook aangekla vir moord, afranseling van lojaliste , roof, diefstal en die vernietiging van infrastruktuur. 27 September is hy op Graaff Reinet verhoor en skuldig bevind. Hy was tot op die einde rustig en kalm. 15 Oktober 1901. Luitenant Pieter Jacobus Wolfaardt (32) op hierdie dag voor ‘n vuurpeloton gesterf te Middelburg. Pieter was nie ‘n man vir stilsit nie. Sy dapperheid het dikwels aan roekeloosheid gegrens. Hy was as Kaapse rebel aan moord en poging tot moord skuldig bevind. Dit is ‘n feit dat hy tydens ‘n geveg etlike Britse soldate tromp-op doodgeskiet het, en op etlike ander gevuur het. Die doodsvonnis was oor hom, sowel as Lótter op die 11de Oktober te Middelburg uitgespreek. Sy vrou het hom in die tronk besoek. In die sel het sy begin huil, en het hy haar getroos. Hy het haar die versekering gegee dat alles met hom wel is, en dat hy gereed is om te gaan. Hy was geblinddoek en op ‘n stoel vasgemaak. Sy laaste woorde was gewees, “Veilig in Jesus se arms”. Bron: Internet. Middelburg inwoner en historiese kenner Hennie Coetzee en John Roderick
contributed by: Janet Melville
viewed 528 times