RABIE J. 1885-1958 & Matty COETZEE 1892-1985

RABIE Jacob 25.05.1885-25.04.1958 & Martha Maria Elizabeth COETZEE 22.01.1892-09.03.1985 Jacob Rabie is op die plaas, 'Mynrus', in die distrik Senekal gebore. Op 14 jarige ouderdom het hy gedurende die Tweede Vryheidoorlog van sy ouerhuis weggeloop en by generaal Piet Cronjé se kommando aangesluit.Terwyl hy en 'n groep ander penkoppe die treinbrug oor die Sandrivier moes gaan opblaas, het hulle in 'n hinderlaag beland waar hulle ernstige verliese gely het. In hierdie skermutseling is Jacob deur sy skouer geskiet en gevange geneem. Die ander seuns wat onder 16 was is losgelaat en huis toe gestuur, maar omdat die jonge Jacob gewond was, het die Engelse hom as "gevaarlik" bestempel. Hy is as 'n krygsgevangene na Ceylon gestuur, waar hy heelwaarskynlik een van die jongstes was. Daar het hy twee jaar gebly en hom as koorafrigter en dirigent onderskei. Die rustelose Jacob het op Ceylon begin studeer. Nadat hy na Suid Afrika teruggekeer het, is hy dadelik skool toe en in standerd 7 geplaas. Hy het op die Drostdy in Worcester skoolgegaan. Na die Tweede Vryheidsoorlog het baie jong krygsgevangenes op St.Helena, Ceylon en Burma die wens uitgespreek om as sendelinge vir die NG Kerk opgelei te word. Die kerk het intussen 'n beroep op sy lidmate gedoen om die jong studente wat in die oorlogsjare finansieël geruïneer is te help, sodat hulle hul studies aan 'n sendingsinstituut of die Kweekskool kon voortsit. Só het dit gebeur dat mnr. PJA Vos van Vosburg aangebied het om Jacob finansieël by te staan met sy studies aan die Kweekskool. Proponent Jacob Rabie is in 1912 op Stellenbosch gelegitimeer en op 31 Mei 1913 te Du Toitspan (Beaconsfield, Kimberley) georden, waar hy tot 1916 gebly het. Daar het hy hom onder meer beywer vir die versorging van die rebelle wat in 1915 gevang is. Vervolgens het hy die gemeentes Memel, Bothaville, Trompsburg en Excelsior bedien. Op 1 April 1951 het hy sy emeritaat ontvang. Hy is kort voor sy 74ste verjaardag op Boshof oorlede. Tydens sy bediening in Beaconsfield, moes hy gedurende die Eerste Wêreldoorlog elke Sondagoggend drie dienste hou; vir die rebelle in die tronk, vir die regeringstroepe en vir sy eie gemeente. Wanneer hy die rebelle besoek het , het hy altyd vir hulle nuus ingebring asook pos wat hy in sy ampsgewaad versteek het. Die rebelle was só dankbaar vir wat hy vir hulle gdoen het dat 'n aantal van hulle later aan hom 'n pragtige Afrikaanse Bybel (1933 uitgawe) met hulle name voorin geskenk het. Bron: Rabie Familiebond
contributed by: Stoffel Willemse
viewed 88 times
RABIE J. 1885-1958 & Matty COETZEE 1892-1985

Camera Maker:Xiaomi
Camera Model:Redmi 4X
Original Date and Time Taken:31 March 2018
Shutter Speed:1/687 sec
Aperture:f/2
ISO Sensitivity:100
Metering Mode:Center Weighted Average
Flash Fired:No Flash
Focal Length:3.68 mm